Donatella Bruwer, een van die werkers by die Vrystaat-nasorgsentrum, en Mirriam Mekgwe (toesighouer) by een van die windpompe wat met liggies versier is.
Donatella Bruwer, een van die werkers by die Vrystaat-nasorgsentrum, en Mirriam Mekgwe (toesighouer) by een van die windpompe wat met liggies versier is. FOTO: Lientjie Mentz

‘n Skouspel van liggies open op Woensdag 19 November by die Vrystaat-nasorgsentrum. Die afgelope tyd is daar kliphard gewerk aan ‘n groot verskeidenheid voorwerpe wat eindelik aangeskakel gaan word vir ‘n tien-dag-lange liggie-skouspel.

Francois Prinsloo, bestuurder van die Vrystaat-nasorgsentrum, sê dié liggiefees is die grootste wat nog vir Kersfees by die sentrum aangebied is.

Liggies sal elke aand van 19 tot 29 November aangeskakel word, van 17:30 tot 22:00, en kos en produkte uit die nasorgsentrum se werkswinkels sal te koop wees.

‘n Groot verskeidenheid handwerk- en houtprodukte sal op die Liggiefees te koop wees.

“Ons het gaan kers opsteek by die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom, wat sedert 2015 elke jaar reuse-geldsameling hou met sy Liggiefees. Hulle het ons regtig baie gehelp, en baie wenke gegee oor wat om te doen en waar om die regte toerusting te kry,” vertel Prinsloo.

Meer as ‘n halfmiljoen besoekers het al na die liggieskouspel in Potchefstroom gaan kyk.

Vanjaar gaan die Vrystaat-nasorgsentrum dié plek wees om liggies te kyk.

Die sentrum se fees gaan op Vrydag 21 November ekstra lank oop bly, en besoekers kan op dié dag reeds van 13:00 af kom inloer by die Kersmark.

‘n Spesiale program vir die spesifieke aand word ook beplan, met die koor van die Laerskool Willem Postma wat optree en plaaslike vermaaklikheidskunstenaars wat ook klank gaan verleen aan die feestelike byeenkoms.

“Besoekers gaan verstom wees,” belowe Prinsloo.

“Daar is ‘n feetjietuin, windpompe, ‘n reuse-wurm en vele meer − alles getooi in liggies.”

Toegang is gratis, maar besoekers kan skenkings doen. ‘n Deel van vanjaar se inkomste gaan gebruik word om volgende jaar se fees nog groter en mooier te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Bloem Express – E-edition 10 December 2025
    Bloem Express E-edition

Gift this article